SUSTERS

Ek en my ma arriveer van die kraaminrigting. Laan is ‘n kleuter van twee.  “Kyk na jou Sussie”.  Laan hardloop kamer toe en gaan haal haar kosbaarste besitting, haar speel strykystertjie.  Sy wil dit vir my gee – ‘n gebaar wat haar liefde en aanvaarding wys.  Sy was nooit jaloers nie en het haar hele lewe lank als met my gedeel, sonder om ooit daaroor te kla.  My Ousus is so ‘n onbaatsugtige “gee mens”.

Ek sit kruisbeen op die kombuiskas.  My onderlip bewe.  Ons Ma het weer voldag begin werk.  Ek mis haar en die huil sit vlak in my keel.  Ek is baie Ma-vas vir ‘n kind van agt.  Laan kom in die kombuis in en met een swiep tel sy my van die kombuiskas op, abba my van kamer tot kamer en sing en hardloop en maak perdgeluide.  Die lawwigheid laat my lag.  Dan stop sy ‘n half papgedrukte sjokolade-trosie in my hand.  Die taai soetigheid vul my hele wese en troos tog ‘n bietjie.  “Mamma kom amper huis toe… en as sy sien jy het gehuil, gaan sy ook huil”. Sy vee ‘n traan van my wang af met haar regter wysvinger.  Sy, my Ousus, was nog altyd my anker.

Dit is twee jaar later… Sy is nou ‘n wyse dame van dertien.  Dit is Junie vakansie en snerpend koud in die Vrystaat.  Die ryp wys nog plek-plek wie is baas.  Ouma Dons en Mamma is doenig in die huis. “Vandag gaan ek jou leer waar babas vandaan kom”, kondig sy aan met ‘n stem wat gesag dra.  Vasgeknyp onder haar arm is Oom Jan van Elfen se boek.  Sy sleep twee tuinstoele nader en ons kry ons sit agter die hoenderhok. “Kom laat ons begin”… Sy lees en lees en ek gaap haar oopmond aan.  Na elke bladsy vra sy plegtig:  “Enige vrae?”  Die grootmense is salig onbewus van die seksvoorligtingklas wat agter die hoenderhok ‘n aanvang neem.   Twee jaar later sleep Mamma ook die einste oom Jan van Elfen boekie nader. ”Laan het my klaar geleer Mamma.”  “Wanneer?”  Mamma se mond hap borrels soos ‘n vis.  “Ek was tien”.  My Ousus was altyd my leermeester.

Ons is studente en geniet elke oomblik daarvan.  Laan woon in die kamer langs myne in die studentehuis en later in die koshuis.  Op ons af-middae klim ons in ‘n skuimbad en “Nice and Easy” ons hare. Ons eet slap tjips in die studentesentrum en “gee punte” vir die mansstudente wat verby gesuiker kom.  Goeie, sorgelose dae!

Nou woon ek op my eie.  Ek is eensaam en alleen.  Agter bakhande fluister vriende en familie “Oujongnooi”.  Ek word genooi na al wat ‘n kombuistee en babatee is, maar vir my is dit net een groot droogte  Ek smag na ‘n maat, maar die troubesigheid wil maar net nie gebeur nie.  Maat vind is deksels moeilik!  Dit is ‘n Sondagaand. Die depressiewe Sondagaand-gevoel het my in sy greep, en daar verbrand ek my aandete ook nog.  ‘n Klop aan die deur… Laan staan met ‘n bos sonneblomme in haar arms, want sy weet dit is my gunsteling blom.  Ek huil op haar skouer.  “Toemaar, als sal regkom”.  Sy het my altyd hoop gegee.

Drie jaar later kry ek ‘n teksboodskap van haar.  “Sus, ek het jou nommer vir een van my vrywilligers gegee en hy gaan jou bel vir ‘n koffie-afspraak. Sy naam is Robert. Moet nou nie hardekwas wees nie.  Gee die man ‘n kans.  Robert kan ‘n lekker tjommie vir jou wees”.    En dit is inderdaad so.  Na tien jaar van getroud wees met my Robert, kan ek inderdaad saamstem.  Hy is my beste Tjommie.  As my Ousus nie ingegryp het met haar praktiese raad en hulp nie, het ek seker vandag nog alleen op Sondae-aande gehuil en my aandete verbrand.

Ek is swanger met ons eerste baba. Oor twee weke word die Asjassie gebore.  Boeke beantwoord nie my vrae so mooi nie.  Ek peper Lanie met ‘n lysie van sestig vrae.  Alles van keisersnitprosedures, tot babaversorging, tot wanneer die asjas uit die huis gaan oor twee dekades.  Alles wil ek in een aand beantwoord kry.  En Laan sit geduldig en teug aan haar koppie koffie en verduidelik en wys en demonstreer totdat al die bang weg is.

Nou is ek en sy volwasse vroue met huis en kind en kraai en manliefies en honderde take elke dag.  Maar die kere wat ons kuier is dit soos ‘n tuiskoms.  Gebind met ‘n onsigbare band van jare se daar wees en meemaak met mekaar.  Dankie, Sus, vir jare se liefde en raad en deel van my lewe wees.  Ek is baie lief vir jou.

deur Henlie Holm

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *