HAAR NAAM IS ZOë

Die weerlose, paar maande-oue bondeltjie se sagte kreungeluidjies word gou vervang deur stuiptrekkings en ‘n harde gehuil.  Hier is dit weer! Haar moedelose aanneem-mamma druk haar liefdevol vas en bid dat die Here die onttrekking van ‘n lyfie vol dwelms moet wegvat. Dit is onregverdig… kinders se skouers is nie gebou om die gewig van hul ouers se keuses te dra nie… Verkeerde besluit van ‘n jong mamma in haar jeug.

Vandag is sy 17, gesond, laggend, ‘n tiener op die vooraand van volwassenheid.  Sy moes  keuses maak en verantwoordelikheid neem, haar omstandighede aanhoor en sin daaruit probeer maak. Sy het gekies om te aanvaar, te vergewe, om uit te reik, in plaas van te ontvang.  Sy meld pligsgetrou by die maatskaplike werkkantoor aan en help stoele dra en uitpak, bedien en regpak.  Sy teiken die afvlerkvoëltjies in haar skool en maak heel en versorg. Haar waardes is geanker en haar passie aansteeklik. Jeug soos jy, liewe Zoë, gee my hoop vir môre!

Ons jeug, ons kaartjie vir die toekoms, ons hoop.  Ons moet hulle help oorleef in die huidige klimaat van politieke en ekonomiese uitdagings, van sosiale media en waardelose films.  Ons moet hulle bevry van bakhandstaan en die ontvang-kultuur, van ʼn karakter sonder integriteit en ʼn eiewaan en nie meer omgee vir jou, hier langs my nie. Dalk moet ons weer leer van regte, maar onthou om eers eie verantwoordelikheid na te kom.

Ons vier Jeugdag op 16 Junie,  maar baie Suid-Afrikaanse kinders sal nie die geleentheid hê om in leiers te ontwikkel nie.  Miskien kan ons tog ʼn verskil maak.  Ek lees die volgende vyf maniere raak waarop ons ons Jeug kan help om te ontwikkel in volwaardige landsburgers met ʼn verskil:

  1. Voed

Niemand kan op ʼn leë maag werk nie en geen kind kan sonder die nodige voeding ontwikkel nie. Help ʼn kind.

  1. Voed op

ʼn Hartseer werklikheid is dat party kinders nie met slaaptydstories sal grootword of deur ʼn liefdevolle ma in die bed gesit sal word nie. Jy kan ʼn kind se opvoeding help finansier of jou huis oopstel vir ʼn kind om jou liefde te ervaar.

  1. Bemagtiging

Help om ons jong mense deur opvoeding te bemagtig sodat hulle in vroue en mans kan ontwikkel wat tot die groei van ons land kan bydra. Stel ʼn voorbeeld.  Leef jou waardes. Handhaaf Integriteit.  Leer deur te wys sonder om ʼn woord te sê.

  1. Maak skoon

Pleks van oor die kinders se deurmekaar kamer te kla, laat hulle jou help.  Takel hul slaapkamers en skenk oortollige klere, boeke en speelgoed aan behoeftige kinders.  Laat jou kinders deel wees hiervan. Leer hulle uitreik en omgee.  Jou onbruikbare items raak ʼn juweel in ʼn ander se lewe! Dit is beter om te gee as om te ontvang!

  1. Lees na

Help deur op hoogte van die behoeftes in jou eie omgewing te wees.  Vind uit watter emosionele uitdagings ons jeug mee te kampe het, oor dwelmgebruik, die belangrikheid van gesonde besluite en emosionele intelligensie. Met jou kennis kan jy ʼn verskil maak, hoe klein dit ook al is.

  1. Tyd

Ons almal spel liefde as T Y D.  Maak tyd vir mekaar, vir jou tiener, weg van selfone, televisie en ander vermaak.  Mag jou huis ʼn veilige hawe wees vir jou tiener om altyd heen terug te kom.

Op Jeugdag vier ons jonk wees, drome en kreatiwiteit!  Saam bou ons aan ʼn beter toekoms, een vir een, saam met Zoë se klein begin.

 ‘n Woordjie van die aanneem-mamma:   “Ek is so dankbaar dat ander ook die mooi in hierdie kindjie van my raaksien.Sy was van dag een af die grootste geskenk vir my en my man.

Dit was nie elke dag maklik nie, maar ek het NOOIT OOIT gedink aan opgee nie.

Dit is die waardes wat ek vir haar ook leer.

Dankie vir die grootste geskenk ooit aan my toevertrou.

Ek GLO iewers het ons iets reg gedoen om so pragtige kind te mag ons eie noem”.

 Susette Oosthuizen, Streekbestuurder

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *