SA Huweliksweek Internasionaal Verteenwoordig

Suid-Afrika is vanjaar verteenwoordig by die Huweliksweek Internasionale Konferensie wat vanaf 24-26 Mei 2019 in Wene, Oostenryk, plaasgevind het.

Die tema van vanjaar se geleentheid was ‘Celebrating Commitment’.  Liezel van der Merwe, president van SA Huweliksweek, het Suid-Afrika by dié geleentheid verteenwoordig waar 54 afgevaardigdes van 17 verskillende lande teenwoordig was.

“Dit was ‘n wonderlike voorreg om mense van regoor die wêreld te ontmoet wat passievol is oor huwelike en gesinne,” sê Liezel, ook die besturende direkteur en redakteur van INTIEM en Marriage Capsule.

Liezel is gevra om een van die hoofsaaklike voorleggings te behartig waarvan die tema: ‘Hoe SA sosiale media en digitale bemarking gebruik om Huweliksweek te  bevorder, met ‘n fokus op invloed en betrokkenheid van bekendes.’ SA Huweliksweek is ‘n toonaangewer op dié gebied. Die maatskappy agter SA Huweliksweek (Media in Africa),  het suksesvol transformeer vanaf slegs gedrukte na ook digitale media en spesialiseer steeds daarin om boodskappe aan ‘n teikengehoor oor te dra met behulp van digitale interaksie.

“Ek het taktiek en statistiek gedeel van byvoorbeeld hoe die Facebook algoritme die oordrag van ‘n boodskap beperk. Die nuutste aanduiding is dat slegs 6% van ‘n blad se aanhangers ‘n boodskap sal sien. Daarom móét jy weet hoe om jou inhoud te struktureer,” sê Liezel. By die geleentheid is Suid-Afrika ook amptelik aangewys as die land wat voortaan Marriage Week International  se sosiale media sal bestuur.

“Dit was wonderlik om mense van verskillende lande te ontmoet wat opstaan vir sterk huwelike en gesonde gesinne. Die effek van egskeiding is waar – ongeag hóé gewoond ons raak aan die feit dat elke tweede huwelik in die skeihof eindig. Die regte toerusting om in jou huwelik te belê, is belangriker as ooit!” vertel Liezel. “Ons is deel van ‘n globale beweging wat die volgende idee ondersteun: As daar liefde in ‘n huwelik is, sal daar harmonie in ‘n huis wees, tevredenheid in gemeenskappe en voorspoed onder nasies.”

By die konferensie het Harry Benson, Navorsingsdirekteur van Marriage Foundation in die VK, ook statistiek gedeel rakende egskeiding en die effek van saambly op vandag se samelewing. Volgens hom neem egskeidings toe gedurende die vyfde, sesde en sewende jaar van die huwelik, waarna dit stelselmatig afneem. Ná tien jaar het die meeste huwelike ‘n wonderlike struktuur gebou met die potensiaal om te hou en daarom kan die belangrikheid van toewyding in ‘n huwelik nie genoeg beklemtoon word nie, verduidelik Liezel.

Marriage Week International is in 1996 deur Richard en Maria Kane gevestig en is in Geneva geregistreer as ‘n Internasionale Vereniging. Die visie is om die konsep teen 2021 onder 75 nasies van die wêreld te sien groei en ontwikkel. Die inisiatief bring media-groepe, besighede, die regering en geloofsgroepe bymekaar – enigiemand wat omgee vir die huwelik. Duisende plaaslike geleenthede vind jaarliks in restaurante, kroeë, media-lokale en kerke plaas. Huweliksweek vier die diversiteit en lewenskragtigheid van die huwelik as ‘n grondslag vir die gesin.

“Ons is oortuig daarvan dat die huwelik ‘n briljante instelling is wat deur gemeenskappe gevier moet word,” sê Liezel. “Daarom is Huweliksweek ‘n tyd om te sê: ‘Word wakker. Die huwelik is ‘n fantastiese idee.’ En aangesien ‘n gesonde huwelik ‘n vaardigheid is, kom ons leer nuwe vaardighede om ons huwelike van goed na uitsonderlik te neem!”

SA Huweliksweek is in 2013 gevestig en word ondersteun deur die regering, invloedryke persone en vrywilligers regoor Suid-Afrika. Dit word elke jaar vanaf 1-7 September gevier en alle getroude paartjies regoor Suid-Afrika word genooi om hieraan deel te neem.

Volg SA Huweliksweek op sosiale media, registreer gratis en besoek die webtuiste. ‘n Geleentheid vir paartjies om hul troubeloftes te hernu sal vanjaar op 7 September om 10:00 plaasvind by die INTIEM Love Bridge, Magnolia Dell, Pretoria. Kaartjies is beskikbaar by itickets.co.za.

Vir meer inligting oor dié geleentheid of SA Huweliksweek in die algemeen, besoek www.sahuweliksweek.co.za

Vir onderhoude of meer inligting, skakel Geraldine Murray by 0123477530 of geraldine@sahuweliksweek.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *